Dr Elnemarie Burden

“Ek sien myself as iemand aan wie n klomp genade uitgedeel is om haar passie elke dag te kan uitleef as ‘n instrument in God se hande.

Ek het groot geword op n sendingstasie waar daar twee hospitale was, n gewone een en n TB(Tuberkulose) hospitaal. Die dokter was n Amerikaner en het my toegelaat om hom dikwels te vergesel as hy gewerk het. Dit het my so “intrigue”, dat dit vanselfsprekend geword het dat ek medies sou gaan studeer. Ek het genadiglik plek gekry op Tukkies  en het genadiglik ook n beurs ontvang. Ek het elke oomblik van my studies geniet. Later was ek ook betrokke by die mediese studenteraad. Elke stukkie ervaring het my egter gevorm en laat groei en mettertyd effens wyser gemaak.

As beurshouer moes ek in noodgevalle of by huisartskunde werk tot helfte van die tyd verstryk het. Ons was gelukkig n lekker groep jong dokters wat in dieselfde bootjie was en het toe besluit dat ons elkeen ‘n kans sou gee om in n ander departement  te roteer. My keuse was ONK. Dit was n heerlike ervaring! Ek is toe, met n stukkie geluk , toegelaat om by ONK te begin werk as n mediese beampte ,waarna ek sommer vinnig begin studeer het aan my primêre eksamens. Prof Swart en Prof Haynes was die departementshoofde by Pretoria Akademies hospitaal (Steve Biko) en Kalafong hospitaal onderskeidelik en het besluit om my aan te stel as die eerste vroulike kliniese assisstent in ONK. My manlike kollegas was “amazing“ en het my  soos goud opgepas, ‘n groep “ gentlemen”. Met harde werk en baie genade , kan ek nou werk in my eie praktyk en kon ek super spesialiseer in otologie.

My droom is om elke dag my beste te gee vir elke pasiënt en n stukkie liefde langs die pad te saai en n stukkie van my passie vir ONK, veral otologie, aan my jonger kollegas oor te dra tydens praktiese kursusse.My inspirasie kom van my pasiënte  en kollegas (hier en oorsee) af; en genadiglik is ek in n beroep en veld wat my passie is; dit genereer sy eie energie en lekkerte.

Ek staan elke dag in verwondering oor God se grootheid en Sy omgee vir my  en  vir elke  persoon wat my pad kruis. Dis so n groot voorreg om my passie te kan leef en die ma en vriendin te kan wees van my twee pragtige kinders.”